Hierdie hoender word in die prutpot (slow cooker) gemaak en is eenvoudig, vinnig en heerlik. Die hoender behoort lekker bros gebraai uit die prutpot te kom, maar indien nie kan jy dit vir so 5-10 minute onder die roosterelement van die oond rooster voor opdiening.
1 groot hoender (2-3 kg)
2,5 ml varsgemaalde swart peper
5 ml droë tiemie
1 knoffelhuisie, fyngemaak
5 ml uie poeier of uie sout
10 ml paprika
10 ml sout (of 5 ml indien uie sout gebruik word)
Verwyder die sakkie met die organe uit die hoender. Spoel die hele hoender (binne en buite) onder lopende water af. Druk die hoender droog met kombuispapier en laat eenkant. Meng die speserye saam in ‘n klein bakkie. Lig die hoender se vel versigtig by die borsies op en vryf van die speserye onder die vel. Gebruik die res van die mengsel en vryf die hoender goed daarmee in, aan die binnekant ook. Plaas die hoender in ‘n prutpot met n klein bietjie water en kook op laag vir 8 ure. Verwyder die hoender uit die prutpot en bedien dadelik.
Per 200g Porsie * Net Carbs 0.3g