Baie Welkom by Die LowCarb Kombuis !

DIE LUGBRAAIER VIR LOWCARBERS - Wat Maak Lugbraaiers So Wonderlik?

DIE LUGBRAAIER VIR LOWCARBERS - Wat Maak Lugbraaiers So Wonderlik? picture

DIE LUGBRAAIER/AIRFRYER VIR LOWCARBERS
Die LowCarb Kombuisᵀᴹ
© Leanda C Retief

Kom ons gesels LUGBRAAIERS (ook bekend as AIRFRYERS).
Een ding is verseker—lugbraaiers het kombuise oorgeneem en mense is baie entoesiasties daaroor. Dit lyk dit asof lugbraaiers orals is: Almal praat daaroor, orals pop reseptegroepe op en resepteboeke verskyn feitlik elke dag. En hoekom nie? Lugbraaiers stel ons in staat om kos vinnig en gesond gaar te maak, ons spaar baie tyd en nog meer krag, wat dan ook neerkom op goedkoper. 

Dit lyk egter asof daar ook heelwat verwarring bestaan tussen lugbraaiers, die glas-konveksie oondjies en selfs gewone (en thermofan) oonde. So hier is die die vinnige verskil:
Gewone oonde (dit is nou die tipe wat gewoonlik deel van ‘n stoof vorm) bestaan uit ‘n hittebron (of element) - wat bo en/of onder in die oond kan wees. Dit stel jou in staat om te bak, of te rooster met die boonste element.  Gewone oonde het voorafverhitting nodig—enige iets van 30-45 minute, afhangend. Dit is hoofsaaklik die warm lug wat in die oond ontstaan, wat die kos gaar maak, of die direkte hitte van die rooster-element. 
Thermofan oonde het hierdie konsep verder gevat—nou is daar ‘n waaier in die oond wat die warm lug sirkuleer en die kos vinniger kan gaarmaak, maar dit is nie regtig ‘n beduidende besparing in krag en tyd nie. 
Glas-konveksie oondjies is daardie countertop oondjies met ‘n glasbak wat ‘n paar jaar gelede baie gewild geraak het—ook met goeie rede. Hulle werk op dieselfde konsep as die gewone oond (eintlik thermofan), met ‘n hittebron (element bo) en ‘n waaier wat die warm lug sirkuleer. Voorafverhitting is dikwels nie nodig nie (hang af wat jy maak), en kos word baie vinniger gaar. Hierdie tipe oondjies gebruik ook baie minder krag—een van die redes is omdat die oondjie soveel kleiner is as ‘n gewone oond en daarom gebruik dit nie so baie energie om die oondjie warm te maak nie. Hierdie oondjies is ideaal vir rooster (soos vleis), maar ook bak—in ag genome dat jy iets bak wat binne in die oondjie kan pas. As gevolg van die ronde vorm is dit nie altyd prakties vir bak nie, maar met genoeg verbeelding, is dit baie vinniger en goedkoper om in die oondjie te bak as in die gewone oond. 
Nou, daar is baie dinge wat oor lugbraaiers gesê kan word, maar persoonlik beskou ek ‘n lugbraaier as ‘n glas-konveksie oondjie op steroids. 

Die eerste ding om in ag te neem, is dat lugbraaiers kom in twee vorms—die tipe met die mandjie of die tipe wat lyk soos ‘n mikrogolf. (Net terloops, een van die redes waarom daar verwarring tussen lugbraaiers en die glas-konveksie oondjies is, is omdat Milex jare gelede ‘n lugbraaier op die mark gesit het—dit lyk net soos die glas-konveksie oondjie, maar is ‘n regte lugbraaier. Dit is steeds op die mark beskikbaar as die Hurricane Airfryer, maar omdat net soos wat die glas-konveksie oondjie lyk, dink baie mense dit is dieselfde ding.) Nou of jy die mandjie of oondjie tipe lugbraaier verkies, is ‘n saak van persoonlike voorkeur—en die grootte van jou gesin. 

Lugbraaiers kom in verskillende grootes—wat in liters aangedui word, met die kleinste hier by 2.3 liter en die grootste is rondom 25 liter. Die mandjie-tipe se maksimum groote is hier by die 8 liter, wat dit geskik maak vir ‘n familie van vier, maar jy sal heel moontlik etes stuk-stuk moet voorberei om dat daar net ‘n beperkte hoeveelheid kos in die mandjie pas op een slag. Ek persoonlik verkies die oondjie-tipe, want hulle is groter en ek vind dat jy ‘n volledige ete vir vier mense op een slag in hierdie tipe lugbraaier kan voorberei. Nou—die ding met lugbraaiers is die hittebron, wat net baie vinniger as die gewone of glasoondjie warm word. Sit daarby ‘n sterk waaier wat die lug sirkuleer—en die gevolg is kos wat vinniger gaar word en nog meer krag spaar. (Vinnige berekeninge wys dat ‘n lugbraaier ongeveer ‘n derde tot ‘n kwart van die krag gebruik wat ‘n gewone oond gebruik.) Die oondjie-tipe lugbraaiers is ook baie prakties in die sin daarvan dat jy baie van jou gewone glasbakke daarin kan gebruik (afhangend van groote) en dat daar verstelbare rakke binne in die lugbraaier is. Baie tipes lugbraaiers het ook addisionele funksies, soos rooster, dehidreer (dehydrator) of rotisserie. Basies enige iets waaraan jy kan dink, kan in ‘n lugbraaier gaargemaak word—teen ‘n fraksie van die tyd en koste.

Lugbraaiers is dus ook baie handig vir LowCarbers. Die eerste rede is natuurlik ekonomies en gemak – jy kan kos vinnig en goedkoop gaarmaak. Maar, dan is daar ook die kwessie van vette en olies. Lugbraaiers het nie vette en olies nodig nie, want jy kan dieselfde bros effek (wat jy gewoonlik met olie sou kry) met die lugbraaier kry. Dit maak dinge soos uieringe, gebakte vis en enige iets anders wat jy normaalweg sou wou diepbraai, baie maklik met minimaal olie. Nou ons weet dat LowCarbers eintlik mag olie inneem, maar die tipe olie wat jy gewoonlik gebruik om kos te diepbraai, moet nie eintlik vir lang tye verhit word nie, en ander tipes is net nie geskik vir diepbraai nie. Met ‘n lugbraaier kan jy jou kos bros en lekker kry, en die gesonde olies hou vir slaai! Die ander positiewe ding is dat die lugbraaier ook fantasties is vir diegene wat aan cholesterol ly, want jy gebruik bitter min addisionele olie wat ‘n uitwerking op jou cholesterol-vlakke kan hê, sonder om ontneem te voel dat jy nie brosgebraaide kosse kan eet nie. 

Wenke vir die Lugbraaier
Begin altyd deur jou lugbraaier se handleiding te lees, en neem kennis van jou lugbraaier se gaarmaaktye. Lugbraaiers kom in verskillende groottes en sterktes, en die gaarmaaktye sal afhang daarvan. 
Jou lugbraaier het heel moontlik “preset times” en programme vir die gaarmaak van sekere kosse – gebruik dit gerus. Dit neem die raaiwerk uit die gaarmaak van kosse en is baie gemaklik met net die druk van een knoppie. 
Ja, jy kan enige tyd jou lugbraaier oopmaak en kyk wat met die kos binne-in aangaan. Inteendeel, terwyl jy besig is om te leer en jou voete te vind, is dit noodsaaklik dat jy maar dophou terwyl die kos gaar raak.
Gebruik jou lugbraaier gadgets! Saam met elke lugbraaier kom daar gadgets, soos ‘n mandjie en ‘n rakkie en soms ook meer, soos bakplate en rotisserie -penne. 
Jy kan ook lugbraaier bykomsighede koop (hou LowCarb Kookgoedjies dop vir idees, of whatsapp "Kookgoedjies" na 0615180246 vir meer idees) en dit bestaan gewoonlik uit ‘n versameling bakke, mandjies, panne en selfs roosterbrood rakkies. Hoe meer gadgets jy vir jou airfryer het, hoe meer dinge kan jy in dit maak! ‘n Mandjie kan byvoorbeeld gebruik word vir enige iets van brood bak, koek tot ‘n bredie, en metaalpenne kan gebruik word vir sosaties. Dit beteken natuurlik nie dat jy nie ook in jou kaste kan gaan krap vir bakke en ander dinge wat in die lugbraaier sal pas nie – soos silikon bakgoed, glasbakke (ramekin-bakkies) en een van my gunstelinge – herwinde tunablikkies. Onthou, jy kan in ‘n lugbraaier gebruik wat jy in die gewone oond kan gebruik, dws silikon, metaal en glas (selfs tinfoelie en bakpapier), maar nie plastiek nie. 
Vir die beste resultate, pak die kos so in die lugbraaier sodat daar genoeg spasie is vir die warm lug om te sirkuleer. Pak eerder minder kos in ‘n kleiner lugbraaier om te verseker dat dit eweredig gaar raak. Deur die kos in die lugbraaier in te prop, veroorsaak dat daar “cold spots” vorm waar die kos nie so effektief gaan gaar raak nie. 
Groente is een van die maklikste en vinnigste goed om in die lugbraaier te maak – en dit hou die geur en voedingswaarde van die groente perfek. Week die groente voor die tyd in koue water vir 15-20 minute, en droog dit dan met ‘n skoon vaddoek af. Jy sal nie glo hoe lekker geroosterde groente in die lugbraaier is nie – skud die groente in ‘n ziploc-sakkie met bietjie olie en geurmiddels voor die tyd en maak dit dan gaar. ‘n lugbraaier maak die groente aan alle kante met warm lug gaar, wat die groente bros braai en karameliseer, maar sag aan die binnekant laat. 
Draai kos teen die helfte van die gaarmaaktyd om – net soos wat jy sou doen as jy dit in die oond of braaipan braai. Dit verseker dat die kos eweredig bruin braai.
Jy kan selfs in die lugbraaierbak! Van poedings tot koppie-broodjies, die groote van jou lugbraaier sal bepaal wat presies jy in die lugbraaier sal kan bak, maar dit bak teen ‘n fraksie van die tyd van die gewone oond, wat jou tyd en geld aan elektrisiteit spaar.
Dit is nie nodig om die lugbraaier vooraf te verhit nie, tensy ‘n resep so aandui. Maar indien jy nie dielugbraaier vooraf wil verhit nie, kan jy net die gaarmaak-tyd met ‘n paar minute verleng.
Het jy geweet? Jy kan ook oorskiet in die lugbraaier opwarm, in plaas van in die mikrogolf. En as ‘n ekstra bonus, werk dit fantasties vir kos wat bros was (soos pizza of braaibroodjies en gekrummelde vis/hoender). Afgesien daarvan, is die lugbraaier omtrent net so vinnig soos die mikrogolf, en dit werk vir enige iets van oorskiet tot voorbereide, gevriesde kosse.
Olie verbeter wel die voorkoms van kosse wat in die lugbraaier gemaak word (soos groente). Moet nooit kleefwerende sproei (soos spray & cook) in die v gebruik nie, want dit kan die afwerking aan die binnekant beskadig. Beste is om olyf of avokado olie in ‘n sproeibottel toe gooi, en dit te gebruik om die mandjie te spuit, of oor kosse te spuit voor dit gaargemaak word. Die olie help dat die kos eweredig bruin braai en dat geurmiddels aan die kos vaskleef.
Gebruik altyd rubber– of plastieklepels en tange, want metaal kan die kleefvrye afwerking beskadig wat die werking van die lugbraaier belemmer.

❤️ Die LowCarb Kombuis het twee Resepteboeke eksklusief oor Lugbraaiers/Airfryers geskryf. 
Gaan loer hier vir meer inligting en vinnige, veilige bestellings!

🍗 Volg hierdie skakel vir Die Airfryer Volume 1:
https://www.lowcarbkombuis.co.za/products/airfryer-vir-lowcarbers-volume-1/

🍗 Volg hierdie skakel vir Die Airfryer Volume 2:
https://www.lowcarbkombuis.co.za/products/airfryer-vir-lowcarbers-volume-2/

🍗 Volg hierdie skakel vir die SPESIALE AANBOD op Airfryer Volume 1 EN 2:
https://www.lowcarbkombuis.co.za/products/spaar-bondel-airfryer-volume-1-en-volume-2/

❤️ Om hierdie artikel in PDF formaat via email te ontvang, stuur LUG na 0615180246 of email LUG na [email protected]



 

 

Share on
Click here to contact us on WhatsApp